Sacred Texts  Bible  World Bible  Index  Previous  Next 

Afrikaans Bible: 1 Thessalonians

1:1 Paulus en Silvánus en Timótheüs aan die gemeente van die Thessalonicense wat in God die Vader en die Here Jesus Christus is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!

1:2 Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede

1:3 en onophoudelik in gedagte hou die werk van julle geloof en die arbeid van julle liefde en die lydsaamheid van julle hoop op onse Here Jesus Christus, voor onse God en Vader,

1:4 omdat ons weet van julle verkiesing, broeders wat deur God bemin word.

1:5 Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid, soos julle weet hoedanig ons onder julle om julle ontwil gewees het.

1:6 En julle het navolgers van ons geword en van die Here deurdat julle die woord in baie verdrukking ontvang het met die blydskap van die Heilige Gees,

1:7 sodat julle voorbeelde geword het vir al die gelowiges in Macedónië en Acháje.

1:8 Want van julle uit het die woord van die Here weerklink nie alleen in Macedónië en Acháje nie, maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan, sodat ons nie nodig het om daar iets van te sê nie.

1:9 Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien

1:10 en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.

2:1 Julle weet tog self, broeders, dat ons ingang by julle nie tevergeefs was nie;

2:2 maar alhoewel ons vantevore, soos julle weet, in Filíppi gely het en mishandel is, het ons in onse God vrymoedigheid gehad om aan julle die evangelie van God te verkondig onder veel stryd.

2:3 Want ons vermaning was nie uit dwaling of uit onsuiwerheid of uit bedrog nie;

2:4 maar soos ons deur God waardig geag is dat die evangelie aan ons toevertrou sou word, so spreek ons, nie om mense te behaag nie, maar God wat ons harte beproef.

2:5 Want ons het, soos julle weet, ons nooit met vleitaal opgehou of met bedekte hebsug nie. God is getuie.

2:6 Ook het ons nie eer van mense, òf van julle òf van ander gesoek nie, al kon ons as apostels van Christus met gesag optree.

2:7 Maar ons was vriendelik onder julle soos 'n pleegmoeder haar kinders koester.

2:8 Terwyl ons so na julle verlang het, was dit ons aangenaam om aan julle nie alleen die evangelie van God mee te deel nie, maar ook ons eie lewe, omdat julle vir ons dierbaar geword het.

2:9 Julle onthou tog, broeders, ons arbeid en inspanning; want terwyl ons nag en dag gewerk het om niemand van julle te beswaar nie, het ons die evangelie van God aan julle verkondig.

2:10 Julle is getuies, en God, hoe heilig en regverdig en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo,

2:11 hoe ons, soos julle weet, net soos 'n vader sy kinders, elkeen van julle vermaan en bemoedig het

2:12 en betuig het dat julle waardiglik moet wandel voor God wat julle tot sy koninkryk en heerlikheid roep.

2:13 Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo.

2:14 Want julle, broeders, het navolgers geword van die gemeentes van God wat in Christus Jesus is in Judéa, omdat julle ook dieselfde dinge gely het van julle eie stamgenote net soos hulle van die Jode,

2:15 wat ook die Here Jesus en hulle eie profete gedood en ons vervolg het en God nie behaag nie en teen alle mense gekant is,

2:16 deurdat hulle ons verhinder om tot die heidene te spreek dat hulle gered kan word, sodat hulle die maat van hulle sondes gedurig vol kan maak. Maar die toorn het oor hulle gekom tot die einde toe.

2:17 Maar nadat ons, broeders, 'n kort tydjie van julle geskeie was--in persoon, nie met die hart nie--het ons met groot verlange ons des te meer beywer om julle aangesig te sien.

2:18 Daarom wou ons na julle toe kom, ek Paulus, meer as een maal; maar die Satan het ons verhinder.

2:19 Want wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms?

2:20 Want julle is ons eer en blydskap.

3:1 Daarom, toe ons dit nie langer kon uithou nie, het ons besluit om in Athéne alleen agter te bly;

3:2 en ons het Timótheüs, ons broeder en dienaar van God en ons medewerker in die evangelie van Christus, gestuur om julle te versterk en julle te bemoedig in julle geloof,

3:3 sodat niemand verontrus mag word onder hierdie verdrukkinge nie; want julle weet self dat ons hiervoor bestemd is.

3:4 Want ook toe ons by julle was, het ons julle vooruit gesê dat ons verdruk sou word, soos dit ook gebeur het en soos julle weet.

3:5 Daarom, toe ek dit nie langer kon uithou nie, het ek ook gestuur om julle geloof te wete te kom, of die versoeker julle nie miskien versoek het en ons arbeid tevergeefs sou wees nie.

3:6 Maar nou dat Timótheüs net van julle af by ons aangekom het en ons die goeie tyding van julle geloof en liefde gebring het, en dat julle altyd 'n goeie herinnering aan ons behou en verlang om ons te sien, net soos ons ook vir julle--

3:7 daarom, broeders, is ons in al ons verdrukking en nood vertroos oor julle deur jul geloof.

3:8 Want nou leef ons, as julle vasstaan in die Here.

3:9 Want watter dank kan ons God vergelde oor julle vir al die blydskap waarmee ons om julle ontwil ons verbly voor onse God,

3:10 terwyl ons nag en dag baie ernstig bid om julle aangesig te sien en te voltooi wat aan julle geloof ontbreek?

3:11 Maar mag onse God en Vader self en onse Here Jesus Christus ons weg na julle toe rig;

3:12 en mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en vir almal, soos ons ook teenoor julle is,

3:13 sodat Hy julle harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader by die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges.

4:1 Verder dan, broeders, vra en vermaan ons julle in die Here Jesus dat julle, soos julle van ons geleer het hoe julle moet wandel en God behaag, nog oorvloediger mag wees.

4:2 Want julle weet watter bevele ons julle deur die Here Jesus gegee het.

4:3 Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery;

4:4 dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer,

4:5 nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie;

4:6 dat niemand sy broeder in hierdie saak moet bedrieg en benadeel nie, omdat die Here 'n wreker is oor al hierdie dinge, soos ons aan julle ook vantevore gesê en betuig het.

4:7 Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking.

4:8 Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie 'n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het.

4:9 Oor die broederliefde het julle nie nodig dat ons julle skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê;

4:10 en julle doen dit ook aan al die broeders in die hele Macedónië; maar ons vermaan julle, broeders, om oorvloediger te wees

4:11 en julle eer daarin te stel om rustig te lewe en julle eie sake te behartig en met julle eie hande te werk, soos ons julle beveel het,

4:12 sodat julle welvoeglik kan wandel teenoor die wat buite is, en aan niks behoefte mag hê nie.

4:13 Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie.

4:14 Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.

4:15 Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie.

4:16 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.

4:17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.

4:18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.

5:1 Maar oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie;

5:2 want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos 'n dief in die nag.

5:3 Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid--dan oorval 'n skielike verderf hulle soos die barensnood 'n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.

5:4 Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos 'n dief sou oorval nie.

5:5 Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.

5:6 Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.

5:7 Want die wat slaap, slaap in die nag; en die wat dronk word, is in die nag dronk.

5:8 Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid.

5:9 Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus

5:10 wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe.

5:11 Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen.

5:12 Maar ons vra julle, broeders, erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan;

5:13 en bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk. Hou vrede onder mekaar.

5:14 En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.

5:15 Sorg dat niemand 'n ander kwaad vir kwaad vergeld nie; maar jaag altyd ná wat goed is, teenoor mekaar sowel as teenoor almal.

5:16 Wees altyddeur bly.

5:17 Bid sonder ophou.

5:18 Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.

5:19 Blus die Gees nie uit nie.

5:20 Verag die profesieë nie.

5:21 Beproef alle dinge; behou die goeie.

5:22 Onthou julle van elke vorm van kwaad.

5:23 En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!

5:24 Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.

5:25 Broeders, bid vir ons.

5:26 Groet die broeders almal met 'n heilige kus.

5:27 Ek besweer julle by die Here dat hierdie brief aan al die heilige broeders voorgelees word.

5:28 Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle! Amen.


Next: 2 Thessalonians