Sacred Texts  Bible  World Bible  Index  Previous  Next 

Afrikaans Bible: Hosea

1:1 Die woord van die HERE wat gekom het tot Hoséa, die seun van Beëri, in die dae van Ussía, Jotam, Agas, Jehiskía, konings van Juda, en in die dae van Jeróbeam, die seun van Joas, koning van Israel.

1:2 Die begin van wat die HERE met Hoséa gespreek het; die HERE het aan Hoséa gesê: Gaan heen, neem vir jou 'n hoervrou en hoerkinders; want die land het grootliks owerspel bedrywe deur van die HERE afvallig te word.

1:3 Toe het hy gegaan en Gomer, die dogter van Diblaim, geneem; en sy het swanger geword en vir hom 'n seun gebaar.

1:4 En die HERE het vir hom gesê: Noem hom Jísreël, want nog 'n klein tydjie, dan sal Ek die bloedskuld van Jísreël aan die huis van Jehu besoek en 'n einde maak aan die koninkryk van die huis van Israel.

1:5 Ja, in dié dag sal Ek die boog van Israel verbreek in die laagte van Jísreël.

1:6 Toe het sy weer swanger geword en 'n dogter gebaar; en Hy het vir hom gesê: Noem haar Lo-Rugáma, want Ek sal My verder nie meer oor die huis van Israel ontferm deur hulle vergifnis te skenk nie.

1:7 Maar oor die huis van Juda sal Ek My ontferm en hulle verlos deur die HERE hulle God, en Ek sal hulle nie deur boog of swaard of oorlog, deur perde of ruiters verlos nie.

1:8 Nadat sy Lo-Rugáma gespeen het, het sy weer swanger geword en 'n seun gebaar.

1:9 En Hy het gesê: Noem hom Lo-Ammi, want julle is nie my volk nie, en Ek sal nie julle s'n wees nie.

1:10 Nogtans sal die getal van die kinders van Israel wees soos die sand van die see, wat nie gemeet en nie getel kan word nie; en in plaas dat aan hulle gesê word: Julle is nie my volk nie--sal aan hulle gesê word: Julle is kinders van die lewende God.

1:11 Dan sal die kinders van Juda en die kinders van Israel almal saam vergader en vir hulle een hoof aanstel en uit die land optrek; want groot is die dag van Jísreël!

1:12 Sê aan julle broers: Ammi, en aan julle susters: Rugáma.

2:1 Twis met julle moeder, twis; want sy is nie my vrou nie, en Ek is nie haar man nie, en laat sy haar hoerery van haar aangesig verwyder en haar owerspel van haar borste af weg.

2:2 Anders sal Ek haar naak uittrek en haar neersit soos op die dag van haar geboorte en haar maak soos 'n woestyn, ja, haar stel soos 'n dor land en haar van dors laat sterwe.

2:3 En Ek sal My oor haar kinders nie ontferm nie, want hulle is kinders uit hoerery gebore.

2:4 Want hulle moeder het in ontug gelewe, sy wat met hulle swanger was, het skandelike dinge gedoen; want sy het gesê: Ek wil my minnaars agternaloop wat my brood en my water, my wol en my vlas, my olie en my drank gee.

2:5 Daarom, kyk, Ek sal jou weg met dorings toemaak en om haar 'n muur bou, sodat sy haar paaie nie sal vind nie.

2:6 En sy sal haar minnaars agternaloop, maar hulle nie inhaal nie; en sy sal hulle soek, maar nie vind nie. Dan sal sy sê: Ek wil heengaan en terugkeer na my vorige man, want toe het ek dit beter gehad as nou.

2:7 Ja, sy het nie erken dat Ek aan haar die koring en die mos en die olie gegee het nie, ook silwer vir haar vermenigvuldig het en goud, wat hulle vir Baäl gebruik het.

2:8 Daarom sal Ek my koring terugneem in die oestyd en my mos op die bepaalde tyd, en wegneem my wol en my vlas wat dien om haar naaktheid te bedek.

2:9 Ek sal dan nou haar skaamte ontbloot voor die oë van haar minnaars, en niemand sal haar uit my hand red nie.

2:10 En Ek maak 'n einde aan al haar vreugde, haar feeste, haar nuwemane en haar sabbatte, ja, aan al haar feestye.

2:11 En Ek sal haar wingerdstok en haar vyeboom verwoes waarvan sy gesê het: Hierdie dinge is my hoereloon wat my minnaars my gegee het; en Ek sal dit tot 'n bos maak, en die wilde diere van die veld sal dit opeet.

2:12 So besoek Ek dan aan haar die dae van die Baäls toe sy vir hulle offerrook laat opgaan het en haar met haar neusring en haar halssierade versier en haar minnaars agternageloop het; maar My het sy vergeet, spreek die HERE.

2:13 Daarom, kyk, Ek sal haar lok en haar in die woestyn lei en na haar hart spreek.

2:14 Dan sal Ek haar daarvandaan haar wingerde gee en die dal Agor tot 'n deur van hoop, en daar sal sy antwoord gee soos in die dae van haar jeug en soos die dag toe sy uit Egipteland opgetrek het.

2:15 En in dié dag, spreek die HERE, sal jy My noem: My man; en jy sal my nie meer noem: My Baäl nie.

2:16 Dan verwyder Ek die name van die Baäls uit haar mond, sodat hulle by hul naam nie meer genoem sal word nie.

2:17 Verder sluit Ek in dié dag vir hulle 'n verbond met die wilde diere van die veld en met die voëls van die hemel en die kruipende diere van die aarde; ja, boog en swaard en oorlog sal Ek verbreek uit die land, en Ek sal hulle in veiligheid laat rus.

2:18 En Ek sal My met jou verloof tot in ewigheid en My met jou verloof in geregtigheid en in reg en in goedertierenheid en in ontferming.

2:19 En Ek sal My met jou verloof in trou; dan sal jy die HERE ken.

2:20 En in dié dag sal Ek verhoor, spreek die HERE, Ek sal die hemel verhoor en dié sal die aarde verhoor.

2:21 En die aarde sal die koring verhoor en die mos en die olie, en dié sal Jísreël verhoor.

2:22 En Ek sal haar vir My saai in die land en My oor Lo-Rugáma ontferm, en aan Lo-Ammi sê: Jy is my volk; en hy sal sê: My God!

3:1 En die HERE het vir my gesê: Gaan nog 'n keer, bemin 'n vrou wat bemin word deur haar vriend, maar wat owerspel bedrywe, net soos die HERE die kinders van Israel bemin, terwyl hulle hul tot ander gode wend en versot is op rosynekoeke.

3:2 Toe het ek haar vir my gekoop vir vyftien sikkels silwer en anderhalf homer gars.

3:3 En ek het aan haar gesê: Jy sal 'n lang tyd moet stilsit vir my, nie hoereer nie en aan geen man behoort nie; en so ook ek teenoor jou.

3:4 Want die kinders van Israel sal 'n lang tyd bly sit sonder koning en sonder vors en sonder slagoffer en sonder klippilare en sonder efod en huisgode.

3:5 Daarna sal die kinders van Israel hulle bekeer en die HERE hulle God soek en Dawid hulle koning, en met siddering aankom na die HERE en na sy goedheid in die laaste van die dae.

4:1 Hoor die woord van die HERE, o kinders van Israel! Want die HERE het 'n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie.

4:2 Hulle sweer en lieg en moor en steel en pleeg owerspel; hulle breek in, sodat bloedbad aan bloedbad raak.

4:3 Daarom treur die land, en alles wat daarop woon, kwyn weg: die wilde diere van die veld en die voëls van die hemel, ja, ook die visse van die see kom om.

4:4 Laat net niemand met ons twis of ons berispe nie! Nogtans is jou volk soos die wat met die priester twis!

4:5 Daarom sal jy struikel bedags, en ook die profeet saam met jou struikel in die nag, en Ek sal jou moeder te gronde laat gaan.

4:6 My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.

4:7 Hoe meer hulle vermenigvuldig het, des te meer het hulle teen My gesondig. Ek sal hulle heerlikheid in skande verander.

4:8 Hulle lewe van die sondoffer van my volk, en na dié se ongeregtigheid verlang hulle siel.

4:9 Daarom sal dit met die priester gaan soos met die volk--Ek sal by hom besoeking doen oor sy weë en hom vergeld na sy dade.

4:10 Dan sal hulle eet, maar nie versadig word nie; hulle sal hoereer, maar nie uitbreek in menigte nie; want hulle het nagelaat om die HERE te vereer.

4:11 Hoerery en wyn en mos neem die hart weg.

4:12 My volk raadpleeg sy hout, en sy staf moet hom die inligting gee; want 'n gees van hoerery het hulle verlei, en deur hulle hoerery het hulle van hul God afvallig geword.

4:13 Hulle offer op die bergtoppe en laat rook opgaan op die heuwels, onder die eike en populiere en terpentynbome, omdat die skaduwee daar goed is. Daarom pleeg julle dogters hoerery, en julle skoondogters bedryf owerspel.

4:14 Ek sal oor julle dogters geen besoeking doen omdat hulle hoereer nie, en ook nie oor julle skoondogters omdat hulle owerspel bedryf nie; want die manne sonder hulleself af met die hoere en offer met die tempelhoere. So kom dan die volk wat geen verstand het nie, tot 'n val.

4:15 As jy hoereer, o Israel, laat Juda hom tog nie skuldig maak nie! Kom dan nie na Gilgal nie, en gaan nie op na Bet-Awen nie, en sweer nie: So waar as die HERE leef!

4:16 Want Israel is wederstrewig soos 'n wederstrewige koei; nou sal die HERE hulle laat wei soos 'n lam in die oop veld.

4:17 Efraim is gekoppel aan die afgode: laat hom staan!

4:18 As hulle drinkery verby is, dan hoereer hulle te meer. Hulle vorste is versot op skande.

4:19 Die wind bind hulle in sy vleuels, sodat hulle oor hul offers beskaamd sal staan.

5:1 Hoor dit, o priesters, en let op, o huis van Israel, en gee gehoor, o huis van die koning! Want die vonnis raak julle, omdat julle vir Mispa 'n vangnet geword het en 'n uitgespreide net op Tabor.

5:2 Ja, in verderflike praktyke verdiep die afvalliges hulle, maar Ek sal hulle almal tot tugtiging wees.

5:3 Ek ken Efraim, en Israel is vir My nie verborge nie; want nou het jy owerspel bedrywe, o Efraim! Israel is verontreinig.

5:4 Hulle dade gedoog geen terugkeer tot hulle God nie, want daar is 'n gees van hoerery in hulle binneste, en hulle ken die HERE nie.

5:5 En die trotsheid van Israel getuig openlik teen hom; en Israel en Efraim sal struikel deur hulle ongeregtigheid, ook Juda sal saam met hulle struikel.

5:6 Met hulle kleinvee en hulle beeste sal hulle heengaan om die HERE te soek, maar Hom nie vind nie. Hy het Hom aan hulle onttrek.

5:7 Hulle het troueloos gehandel teen die HERE, want hulle het onegte kinders verwek; nou sal die nuwemaan hulle met hul velde verteer.

5:8 Blaas die basuin in Gíbea, die trompet in Rama! Hef aan die krygsgeskreeu in Bet-Awen. Agter jou kom dit, Benjamin!

5:9 Efraim sal 'n woesteny word op die dag van straf; onder die stamme van Israel maak Ek bekend wat seker is.

5:10 Die vorste van Juda is soos hulle wat die grenslyne verlê. Ek sal my grimmigheid oor hulle uitgiet soos water.

5:11 Efraim is verdruk, verbreek deur die oordeel; want dit het hom behaag om na die gebod van mense te wandel.

5:12 Daarom is Ek vir Efraim soos 'n mot en vir die huis van Juda soos 'n verrotting in die gebeente.

5:13 Toe Efraim sy krankheid sien en Juda sy sweer, het Efraim na Assur gegaan en na koning Jareb gestuur; maar hy kan julle nie genees en julle van die sweer nie gesond maak nie.

5:14 Want Ek is soos 'n leeu vir Efraim, en soos 'n jong leeu vir die huis van Juda; Ek, Ek verskeur en gaan heen, Ek dra weg sonder dat iemand red.

5:15 Dan gaan Ek heen, Ek keer na my woonplek terug, totdat hulle skuld beken en my aangesig soek. In hulle nood sal hulle My soek.

6:1 Kom en laat ons terugkeer tot die HERE; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind.

6:2 Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag ons laat opstaan, sodat ons voor sy aangesig kan lewe.

6:3 En laat ons ken--laat ons dit najaag om die HERE te ken; sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei.

6:4 Wat sal Ek met jou doen, o Efraim; wat sal Ek met jou doen, o Juda? aangesien julle liefde is soos 'n môrewolk en soos 'n dou wat vroeg weer verdwyn.

6:5 Daarom het Ek hulle neergekap deur die profete, hulle gedood deur die woorde van my mond, en die oordele oor jou kom te voorskyn soos 'n ligstraal.

6:6 Want Ek het 'n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers.

6:7 Maar hulle het soos Adam die verbond oortree, daar het hulle troueloos teen My gehandel.

6:8 Gílead is 'n stad van kwaaddoeners, vol bloedspore.

6:9 En soos 'n rower op die loer lê, loer 'n priesterbende; hulle pleeg moord op die pad na Sigem, ja, hulle het skandelike dade gedoen.

6:10 In die huis van Israel het Ek 'n afskuwelike ding gesien: Efraim het daar tot hoerery verval, Israel is verontreinig.

6:11 Ook vir jou, o Juda, is daar 'n oes beskik as Ek die lot van my volk verander.

7:1 Terwyl Ek Israel genees, word die ongeregtigheid van Efraim openbaar en die booshede van Samaría; want hulle pleeg bedrog en die dief breek in en 'n rowerbende plunder op die straat.

7:2 En hulle sê nie in hulle hart dat Ek aan al hulle boosheid dink nie; nou omsingel hulle dade hulle, dit lê oop voor my aangesig.

7:3 Met hulle boosheid verbly hulle die koning en met hulle leuens die vorste.

7:4 Hulle is almal owerspelers; hulle is soos 'n oond wat bly brand, ook al het die bakker opgehou met stook, vandat die deeg geknee word totdat dit deursuur is.

7:5 Op die dag van ons koning is die vorste siek van verhitting deur wyn; hy steek sy hand uit na die spotters.

7:6 Ja, hulle het hul hart gemaak soos 'n oond in hul arglistigheid; die ganse nag deur slaap hulle bakker, in die môre vroeg brand dit soos 'n vuurvlam.

7:7 Hulle almal gloei soos 'n oond en verteer hul regeerders, al hulle konings val; daar is niemand onder hulle wat My aanroep nie.

7:8 Efraim--hy vermeng hom met die volke; Efraim is 'n roosterkoek wat nie omgekeer is nie.

7:9 Vreemdes verteer sy krag, en hy bemerk dit nie; ook is grysheid oor hom uitgesprei, en hy weet dit nie.

7:10 Ja, die trotsheid van Israel getuig openlik teen hom; en tog bekeer hulle hul nie tot die HERE hulle God nie, en ondanks dit alles soek hulle Hom nie.

7:11 So het Efraim dan geword soos 'n onnosele duif sonder verstand; hulle roep na Egipte, hulle gaan na Assur.

7:12 Wanneer hulle gaan, sal Ek my net oor hulle uitsprei; soos die voëls van die hemel trek Ek hulle neer; Ek tugtig hulle soos in hulle samekoms aangekondig is.

7:13 Wee hulle, omdat hulle van My weggevlieg het! Verwoesting oor hulle, omdat hulle teen My oortree het! Ék tog wou hulle verlos, maar húlle het leuens teen My gespreek.

7:14 Ook roep hulle nie van harte na My nie, maar jammer op hulle bedde; ter wille van koring en mos kerwe hulle hulself stukkend; hulle is opstandig teen My.

7:15 Alhoewel Ek hulle arms geoefen, versterk het, het hulle kwaad teen My beraam.

7:16 Hulle keer terug, maar nie na bo nie; hulle is soos 'n bedrieglike boog; hulle vorste sal val deur die swaard weens die skeldwoorde van hulle tong. Dit is hulle bespotting in Egipteland.

8:1 Die basuin aan jou mond! Soos 'n arend skiet dit neer op die huis van die HERE! Omdat hulle my verbond oortree het en teen my wet gesondig het.

8:2 My roep hulle toe: My God, ons, Israel, ken U.

8:3 Israel het die goeie verwerp--die vyand sal hom agtervolg!

8:4 Húlle het konings aangestel, maar nie uit My nie; hulle het vorste gekies, maar sonder my wete; van hul silwer en goud het hulle vir hul afgode gemaak tot hulle verderf.

8:5 Jou kalf, o Samaría, is afskuwelik; my toorn is teen hulle ontvlam. Hoe lank sal hulle tot reinheid onbekwaam wees?

8:6 Want dit is ook uit Israel: 'n smid het dit gemaak, en dit is geen god nie; maar tot splinters sal dit word--die kalf van Samaría.

8:7 Want hulle saai wind, maar hulle sal storm maai; dit het geen halm nie; wat uitspruit, lewer geen meel op nie; selfs as dit iets oplewer, sou vreemdelinge dit verslind.

8:8 Israel is verslind; alreeds is hulle onder die volke soos iets wat waardeloos is.

8:9 Want húlle het opgetrek na Assur--'n wilde-esel wat eiesinnig rondloop, is Efraim! --hulle het onwettige bondgenootskappe gewerf.

8:10 Ook al werf hulle onder die volke, Ek sal hulle nou saamraap, en hulle sal begin minder word weens die laste deur die koning van die vorste opgelê.

8:11 Want Efraim het die altare vermenigvuldig om te sondig--die altare het vir hom tot sonde geword.

8:12 Ek het hom tien duisende leringe van my wet voorgeskrywe, maar dit word as iets vreemds geag.

8:13 Slagoffers, My aangebied, offer hulle--vleis is dit, en hulle eet; die HERE het geen behae daarin nie. Nou sal Hy aan hulle ongeregtigheid dink en oor hulle sondes besoeking doen; hulle sal teruggaan na Egipte.

8:14 Omdat Israel sy Maker vergeet en paleise gebou het, en Juda 'n menigte versterkte stede, daarom sal Ek 'n vuur in sy stede slinger wat sy paleise sal verteer.

9:1 Wees nie bly met gejuig, o Israel, soos die volke nie, want jy het gehoereer van jou God af weg; jy het hoereloon liefgehad op al die koringdorsvloere.

9:2 Dorsvloer en parskuip sal hulle nie voed nie, en die mos sal hulle in die steek laat.

9:3 Hulle sal in die land van die HERE nie bly nie; maar Efraim sal na Egipte teruggaan, en in Assur sal hulle eet wat onrein is.

9:4 Hulle sal vir die HERE geen wyn uitgiet nie, en hulle slagoffers sal vir Hom nie welgevallig wees nie; soos tranebrood sal hulle spys vir hulle wees. Almal wat daarvan eet, word verontreinig; want hulle brood is vir hulleself: dit sal nie in die huis van die HERE kom nie.

9:5 Wat sal julle dan doen op die feestyd en op die feesdag van die HERE?

9:6 Want kyk, hulle gaan heen weens die verwoesting: Egipte sal hulle versamel, Mof hulle begrawe; onkruid sal hulle skat van silwergoed in besit neem, dorings in hulle tente wees.

9:7 Die dae van besoeking het gekom, die dae van vergelding het gekom; Israel sal dit ervaar! Die profeet word 'n dwaas, die man van die gees 'n waansinnige, weens die grootheid van jou ongeregtigheid, en omdat die vyandskap groot is.

9:8 Efraim is 'n spioen teenoor my God; wat die profeet aangaan, die net van 'n voëlvanger is op al sy weë gesprei, vyandskap in die huis van sy God.

9:9 Hulle het baie, baie verkeerd gehandel soos in die dae van Gíbea. Hy sal dink aan hulle ongeregtigheid, besoeking doen oor hulle sondes.

9:10 Ek het Israel gevind soos druiwe in die woestyn; Ek het julle vaders gesien soos voorvye aan die vyeboom in sy eerste groei; maar húlle het na Baäl-Peor gekom en hulle aan die skandegod toegewy en 'n verfoeisel geword net soos die voorwerp van hulle liefde.

9:11 Efraim--sy heerlikheid sal wegvlieg soos 'n voël. Geen geboorte, geen moederskap, geen ontvangenis meer nie!

9:12 Ja, al sou hulle hul kinders grootmaak, Ek maak hulle kinderloos, sonder mense; ja, wee hulleself ook as Ek van hulle wyk.

9:13 Efraim, soos Ek dit sien na Tirus heen, is geplant in 'n mooi omgewing, maar Efraim sal sy seuns na die moordenaar moet uitbring.

9:14 Gee hulle, o HERE--wat sal U gee? --gee hulle 'n kinderlose moederskoot en uitgedroogde borste.

9:15 Al hulle boosheid is byeen in Gilgal, want daar het Ek hulle begin haat weens die boosheid van hulle handelinge; Ek sal hulle uit my huis uitdrywe, hulle nie meer liefhê nie. Al hulle vorste is opstandig.

9:16 Efraim is getref, hulle wortel het verdor, hulle dra geen vrug meer nie; ook wanneer hulle kinders baar, sal Ek nogtans die lieflinge van hulle skoot ombring.

9:17 My God sal hulle verwerp, omdat hulle na Hom nie geluister het nie, en hulle sal rondswerwe onder die nasies.

10:1 Israel was 'n weelderig uitbottende wynstok wat sy vrug voortgebring het; hoe meer vrug hy gedra het, des te meer altare het hy gebou; hoe beter dit met sy land gesteld was, des te beter het hy die klippilare gemaak.

10:2 Vals is hulle hart; nou sal hulle daarvoor boet; Hy sal hulle altare stukkend breek, hulle klippilare verwoes.

10:3 Ja, nou sal hulle sê: Ons het geen koning nie, want ons het die HERE nie gevrees nie; en die koning--wat sou hy vir ons kan doen?

10:4 Hulle het groot woorde gespreek, vals gesweer, verbonde gesluit--en soos 'n gifplant spruit die oordeel uit in die vore van die landerye.

10:5 Oor die kalf van Bet-Awen sal die inwoners van Samaría besorg wees; want sy volk sal oor hom treur en sy afgodspriesters oor hom sidder, oor sy heerlikheid, omdat dit van hom weggevoer is.

10:6 Hy sal ook self na Assur weggevoer word as 'n geskenk aan koning Jareb; skaamte sal Efraim aangryp, en Israel sal beskaamd staan oor sy eie raadsbesluit.

10:7 Samaría word vernietig, sy koning is soos 'n spaander op die water.

10:8 En die hoogtes van Awen, Israel se sonde, word verdelg, dorings en distels sal opskiet op hulle altare; en hulle sal tot die berge sê: Bedek ons! en tot die heuwels: Val op ons!

10:9 Sedert die dae van Gíbea het jy gesondig, o Israel! Daar staan hulle--moet die stryd teen die kwaaddoeners hulle nie oorval in Gíbea nie?

10:10 Dit is my begeerte om hulle te tugtig, en volke sal teen hulle versamel word as hulle gebind word aan hulle twee ongeregtighede.

10:11 Maar Efraim is 'n geleerde jong koei wat gewillig dors; nogtans sal Ek self oor haar mooi nek gaan: Ek sal Efraim laat trek; Juda sal die ploeg trek, Jakob sal die eg sleep.

10:12 Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde; braak vir julle 'n braakland, want dit is tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën.

10:13 Julle het goddeloosheid ingeploeë, julle het slegtigheid gemaai, die vrug van leuens geëet, omdat jy op jou weg vertrou het, op die menigte van jou helde.

10:14 Daarom sal daar oorlogsrumoer onder jou volke ontstaan en al jou vestings verwoes word net soos Salman Bet-Arbel verwoes het in die dag van oorlog: moeders is met kinders en al verpletter.

10:15 Net so het Bet-el aan julle gedoen weens julle ontsettende boosheid; in die môre vroeg is dit gedaan, gedaan met die koning van Israel.

11:1 Toe Israel 'n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.

11:2 Hoe meer die profete hulle geroep het, des te meer het hulle van húlle af weggeloop; hulle het aan die Baäls geoffer en vir die gesnede beelde rook laat opgaan.

11:3 En Ek self het Efraim leer loop. Hy het hulle op sy arms geneem, maar hulle het nie erken dat Ek hulle genees het nie.

11:4 Met mensebande, met koorde van liefde het Ek hulle getrek; en Ek was vir hulle soos diegene wat die juk van hulle kakebeen af oplig; en Ek het My na hom neergebuig, Ek het hom voedsel gegee.

11:5 Hy sal na Egipteland nie terugkeer nie, maar Assur--dié sal sy koning wees; omdat hulle geweier het om hulle te bekeer.

11:6 En die swaard sal geswaai word in sy stede en sy grendels vernietig en verteer weens hulle planne.

11:7 Want my volk dwing om van My afvallig te word; en as die profete hom roep na bo, rig hy hom glad nie op nie.

11:8 Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel? Hoe kan Ek jou maak soos Adma, jou gelykstel met Seboïm: my hart is omgekeer in My, tegelykertyd is my medelyde opgewek.

11:9 Ek sal my toorngloed nie laat geld nie, Ek sal Efraim nie weer te gronde rig nie; want Ek is God en nie 'n mens nie, die Heilige in jou midde. En Ek sal nie kom in grimmigheid nie.

11:10 Hulle sal agter die HERE aan trek; Hy sal brul soos 'n leeu. Want Hy sal brul, en die kinders sal met siddering van die seekant aankom.

11:11 Hulle sal sidderende aankom soos 'n voëltjie uit Egipte en soos 'n duif uit die land Assur; en Ek sal hulle laat woon in hulle huise, spreek die HERE.

12:1 Efraim het My omsingel met leuens, en die huis van Israel met bedrog; terwyl Juda nog altyd bandeloos is teenoor God, ja, teenoor die Allerheiligste, die Getroue.

12:2 Efraim hou hom besig met wind, en hy agtervolg die oostewind; die hele dag vermeerder hy leuens en geweld, en hulle sluit 'n verbond met Assur, terwyl olie na Egipte gevoer word.

12:3 Die HERE het ook 'n twis met Juda, en Hy sal oor Jakob besoeking doen volgens sy weë, hom vergelde na sy dade.

12:4 In die moederskoot het hy sy broer by die hakskeen gehou, en in sy manlike krag het hy met God geworstel.

12:5 Ja, hy het met die Engel geworstel en die oorhand gekry, hy het geween en Hom gesmeek. By Bet-el het hy Hom gevind, en daar het Hy met ons gespreek.

12:6 En HERE God van die leërskare, HERE is sy gedenknaam.

12:7 En jy, tot jou God moet jy terugkeer, beoefen liefde en reg, en hoop gedurigdeur op jou God.

12:8 Kanaän--in sy hand is daar 'n valse weegskaal, hy hou daarvan om af te pers.

12:9 Maar Efraim sê: Tog het ek ryk geword, ek het vir my 'n vermoë verwerf. Alles wat ek verwerf het, is nie genoeg om op my enige sondeskuld te lê nie.

12:10 Maar Ek is die HERE jou God van Egipteland af, Ek sal jou weer in tente laat woon soos in die dae van die huttefees.

12:11 Ek het ook tot die profete gespreek, en Ek het gesigte vermenigvuldig en deur middel van die profete gelykenisse voorgedra.

12:12 Was Gílead goddeloosheid hulle het louter nietigheid geword. In Gilgal het hulle beeste geoffer; so sal dan hulle altare wees soos kliphope op die vore van die landerye.

12:13 En Jakob het gevlug na die veld van Aram, en Israel was diensbaar vir 'n vrou as loon, en vir 'n vrou het hy vee opgepas.

12:14 Maar deur 'n profeet het die HERE Israel uit Egipte laat optrek, en deur 'n profeet is hulle opgepas.

12:15 Efraim het die HERE bitterlik geterg; daarom sal Hy sy bloedskulde op hom laat neerkom, ja, sy Here sal hom vir die aangedane smaad vergelde.

13:1 As Efraim net gespreek het, was daar siddering; hoog het hy gestaan in Israel. Maar hy het hom skuldig gemaak deur die Baäl en gesterwe.

13:2 En nou gaan hulle voort om te sondig en het vir hulle 'n gegote beeld van hulle silwer gemaak, afgode volgens hulle insig, geheel en al smidswerk; van hulle word gesê: Die mense wat offer, vereer kalwers met kusse!

13:3 Daarom sal hulle wees soos 'n môrewolk en soos dou wat vroeg weer verdwyn, soos kaf wat wegvlieg van die dorsvloer en soos rook uit die venster.

13:4 Tog was Ek, die HERE, jou God van Egipteland af, en buiten My het jy geen God geken nie, ja, behalwe My is daar geen Heiland nie.

13:5 Ek het jou in die woestyn geken, in die land van droogtes.

13:6 Ooreenkomstig hulle weiveld het hulle versadig geword; toe hulle versadig was, het hulle hart hoogmoedig geword; daarom het hulle My vergeet.

13:7 Toe het Ek vir hulle soos 'n leeu geword, soos 'n luiperd lê Ek by die pad en loer.

13:8 Ek val hulle aan soos 'n beer wat van kleintjies beroof is, en Ek skeur hulle borskas oop; en soos 'n leeuin verslind Ek hulle daar, die wilde diere van die veld sal hulle verskeur.

13:9 Dit is jou verderf, o Israel, dat jy teen My, jou helper, is.

13:10 Waar is nou jou koning, dat hy jou kan verlos in al jou stede, en jou regters van wie jy gesê het: Gee my 'n koning en vorste?

13:11 Ek gee jou 'n koning in my toorn, en Ek neem hom weg in my grimmigheid.

13:12 Saamgebind is die ongeregtigheid van Efraim, weggebêre is sy sonde.

13:13 Barensweë sal hom oorval, hy is 'n onverstandige kind; want as die tyd daar is, stel hy hom nie in die kindergeboorte nie.

13:14 Uit die mag van die doderyk sal Ek hulle loskoop, Ek sal hulle verlos van die dood. Dood, waar is jou pestilensies? Doderyk, waar is jou verderf? Berou bly vir my oë verborge.

13:15 Wanneer hy vrug dra onder die broers, kom 'n oostewind, 'n wind van die HERE, wat uit die woestyn opkom; dan droog sy fontein op en sy bron dor uit. Dié sal 'n skat van allerhande kosbare voorwerpe roof.

14:1 Samaría sal daarvoor boet, omdat hy weerspannig was teen sy God; hulle sal val deur die swaard, hulle kinders sal verpletter en hulle swanger vroue oopgesny word.

14:2 Bekeer jou, Israel, tot die HERE jou God, want jy het gestruikel deur jou ongeregtigheid.

14:3 Neem woorde met julle, en bekeer julle tot die HERE; sê aan Hom: Vergeef alle ongeregtigheid, en neem aan wat goed is; dan sal ons as offerdiere ons lippe aanbied.

14:4 Assur kan ons nie red nie, op perde wil ons nie ry nie en tot die werk van ons hande nie meer sê: Onse God nie! Want by U vind die wees ontferming.

14:5 Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend.

14:6 Ek sal vir Israel wees soos die dou, hy sal bloei soos 'n lelie en sy wortels uitslaan soos die Líbanon.

14:7 Sy lote sal uitsprei, en sy prag wees soos dié van 'n olyfboom en sy geur soos die Líbanon.

14:8 Die wat onder sy skaduwee sit, sal weer koring laat groei; en hulle self sal bloei soos die wingerdstok; die roem daarvan sal wees soos die wyn van die Líbanon.

14:9 Efraim, wat het Ek nog met die afgode te doen? Ek het hom verhoor en hou my oog oor hom. Ek is soos 'n groen sipres; uit My word jou vrug gevind.

14:10 Wie wys is, laat hom op hierdie dinge let! Wie verstandig is, laat hom dit erken! Want die weë van die HERE is reg; en die regverdiges sal daarop wandel, maar die oortreders daarop struikel!


Next: Joel